Deel I
Ek het so pas Hermann Gilomee se “Die Laaste Afrikanerleiers” gelees. Twee onderwerpe daarin het by my bepaalde herinneringe gewek. Eerstens, SA se teenwoordigheid in en ontrekking uit Angola in 1975. Tweedens, die gebeure wat die weg gebaan het vir Van Zyl Slabbert om in 1979 as leier van die Progressiewe Federale Party verkies te word en sodoende ook leier van die Amptelike Opposisie.
Aan die einde van Maart sal dit 40 jaar wees dat ek van my eerste diplomatieke pos in Washington D.C. na Pretoria teruggekeer het. Daar het ek die geleentheid gebruik om my navorsingswerk te voltooi vir n M.A.-verhandeling oor “Die Rol van die Senaat in die VSA t.o.v. Buitelandse Sake”.
Ek sal nie die dag van die gradeplegtigheid by UNISA vergeet nie – Saterdag, 27 April 1974. Min besef, of ooit kon droom, dat hierdie datum 20 jaar later so in elke Suid-Afrikaner se geheue ingegraveer sou word nie. Daardie gegewe oggend was ek vroeg dag by die Uniegebou in die VN en SWA-afdeling van Buitelandse Sake waar ek toe betrokke was. Die gebeure in Portugal twee dae van tevore was steeds n bron van diepe nabetragting en skok.
Wat my veral weer aan my verhandeling laat terugdink het, was die gedeelte waar Gilomee op bls. 133-35 die katarsis verwoord toe die Senaat in die VSA op 19 Desember 1975 die Clark-amendament (vernoem na die Senator wat die wetgewing ingedien het) aanvaar het ingevolge waarvan Amerikaanse fondse mbt Angola verbied is.
Hoe het hierdie besluit nie baie in SA met pap op hul gesigte gelaat nie. Veral die in die veiligheidsgemeenskap, die weermag by name, en dan in geen geringe mate nie, hul minister P.W. Botha. Hulle het hoog en laag geglo en vir hulself dit wys gemaak dat die VSA wel die hulpmiddele sou verskaf wat SA met sy omvangryke ekspidisie sou help en verder sanksioneer. Hulle wou SA se betrokkenheid in Angola ten alle koste laat voortduur – ”come hell or high water” wat nie n te kras uitdrukking is om hul begeerte te beskryf nie, inteendeel. Hulle het geglo net wat hulle wou hoor. Hulle was so behep met hul eie agenda. Dit het hulle blind gelaat om enige skrif aan die muur in Washington te lees of enigsins te luister na die wat met hulle durf verskil het.
Daardie skrif was daar vir almal om te lees. In die opsomming van my verhandeling het ek die volgende in 1973 gekonstateer:
“Die rol van die Senaat in die VSA tov buitelandse sake is, soos die grondwet uitdruklik bepaal, nie net tot verdrae en benoemings beperk nie. Die Senaat oefen ook n besondere invloed op buitelandse beleid uit met die verantwoordelikheid om (saam met die Huis van Verteenwoordigers) fondse te stem. … Die Verenigde State se betrokkenheid by die oorlog in Suidoos-Asie het sedert 1965 die soeklig gewerp op eensydige optredes as gevolg waarvan die VSA aan die oorlog deelgeneem en buitelandse verpligtinge teenoor buitelandse moonthede aangegaan het. Namate hierdie debat toegeneem het, is daar meer buitelandse beleidsonderwerpe aangeroer waarvan die Senaat na die liggaam se mening n aandeel behoort te he”. (Kursief nou aangebring)
Die motivering vir die verhandeling is vooraf so geformuleer:
“Alles dui daarop dat die Senaat in die toekoms n steeds groter rol in buitelandse sake gaan speel. Hierdie rol sal steeds toeneem veral na die gebeure van die afgelope dekade en die sukses wat Senatore in die jongste tyd gehad het om n invloed in buitelande sake te geword het waarmee die president rekening moet hou”. (Kursief nou aangebring)
Die in SA wat so gretig op Amerikaanse hulp gewag en staat gemaak het en die in die VSA wat dit aangebied en beloof het, het n kardinale feit misken. Skaars n jaar vroeër het die VSA n dekade lange betrokkenheid in Vietnam beëindig. Dit het ook klein begin – om kommunisme in n verafgelee wêrelddeel te prober stuit. Oor tyd het dit tot n volskaalse oorlog ge-eskaleer wat meer as n half miljoen lewens geeis het. Die Amerikaanse psige is tot in sy diepste wese geknou. Die oorlogletsels is vandag nog steeds nie almal weg nie. In 1975 was hulle op hul rouste.
Gilomee beskryf hoe (genl.) Hein du Toit as hoof van militere inligting na n besoek aan die VSA aan sy gewillige toehoorders in SA kom vertel het dat Pik Botha, as Ambassadeur in Washington, hom sou versoek het om die regering in te lig dat “die groot meerderheid van die senaat ons ondersteun”. Bepaald het Pik Botha so n flagrante vergryp aan die waarheid ontken. Selfs in die biografie deur Dirk en Johanna de Villiers getiteld “PW” staan opgeteken:
“Pik Botha het Vorster betyds gewaarsku: moenie daarop reken dat Ford die geld sal kry nie”. (bl. 265. Kursief bygevoeg.)
Onlangs het Peter W. Rodman se boek “Presidential Command” verskyn. Gedurende 1974-76 was hy in die Withuis n assistent vir die Nasionale Veiligheidsadviseur van Pres. Ford. Hy lys die Senaat se Angola-besluit as een van n hele reeks beperkinge wat die Senaat aanvaar het en waarvan sommige voorgestel was deur
“… conservatives, but the overwhelming majority came from the left. … The catalogue of new legislative restraints on executive power from that period is a long one”. (bl. 113)
En dat
“Denial of presidential flexibility was a deliberate goal of these legislative constraints, and they have achieved their purpose”. (bl. 114)
Teen die middel 1980’s was daar
“… over 100 separate prohibitions and restrictions on Executive Branch authority to formulate and implement foreign policy. … But the scope of this legislative micromanagement is now enormous. … This represented a revolution in the balance between the two branches of government”. (bls. 113-144. Kursief bygevoeg.)
Besonder insiggewend is Rodman se verwysing na die hoof van die CIA van daardie tyd, William Colby. Dat Du Toit gesprekke met die CIA en heelwaarskynlik met Colby self gehad het, moet as vanselfsprekend aanvaar word. Hy was immers SA se hoof van militere inligting. En die CIA, as die ontvanger van die beoogde fondse, was die kanaal om o.a. oorlogsmateriaal aan hul en SA se gemeenskaplike anti-kommunistiese bondgenoot, UNITA, te voorsien. So was die CIA en die SA veiligheidsgemeenskap knus kop in een mus om Angola van die kommmuniste te red.
Maar, laat Rodman eerder self oor die CIA uitbrei en vir Colby beskryf wat in n klassieke magstryd in Washington vasgevang was tussen Kissinger, as Minister van Buitelandse Sake, en James Schlesinger, as Minsiter van Verdediging, en waartydens hy gevaar geloop het om sy pos by die CIA te verloor:
“… Colby considered that the CIA was no longer a creation of the Executive Branch exclusively; he subscribed to the view that ‘in 1975 the center of political power had moved to Congress and … the CIA’s survival depended on working out satisfactorily rather than hostile relations there’. (bl. 99) “Colby saw the balance of power tilting so strongly toward Congress as to render the CIA less an instrument of the Executive Branch than a virtual servant to Congress”. (bl.113. Kursief bygevoeg.)
En dan oor hierdie siening van Colby gee Rodman hierdie verdere toeligting:
“… the drama of William Colby was emblematic of the constitutional revolution that was occurring simultaneously. … the Colby phenomenon requires some explanatory context. Vietnam and Watergate left a legacy of new restrictions on presidential power that are now embedded in legislation. … the Congress elected in November 1974 had shifted sharply to the left. … The previous Congress had begun the process of imposing some important restrictions on a weakened Nixon … and the new Congress took up with a vengeance where its predecessor left off”. (bls.112-113)
Teen hierdie agtergrond is dit duidelik dat wat in die Senaat in Desember 1975 gebeur het, het niks te make gehad met n besluit om SA in die steek te laat nie. Nie om SA te skok nie. Nie om SA te straf nie. Nie om SA n “messteek in die rug” te gee nie, soos de Villiers in “PW” op bl. 266 dit stel toe SA, volgens minister Botha (in dieselfde aanhaling op daardie bladsy), “vir Westerse belange die kastaiings uit die vuur moes krap”. Die aanhaling laat dit klink asof SA gevra was om volskaals in Angola in te klim en SA dit eintlik teensinnig gedoen het. Of dat SA dit gedoen het want die VSA het dan fondse beloof – n hele VSA$ 26 miljoen (minder as R20 miljoen teen daardie tyd se wisselkoers)! Nouliks genoeg om n oorlog vir n paar dae te voer. Klaarblyklik het minister Botha nie die teenprestasie verreken wat die VSA sou verwag het, selfs sou geeis het, indien die fondse wel goedgekeur was nie. Dalk het hy net gedink aan die politieke gewin wat hy van die Amerikaners sou kon opeis. In retrospek was die afkeur van die fondse dalk n bedekte seen want anders was SA heelwaarskynlik meer en dieper in Angola ingesuig om “Westerse belange” te beskerm wat n groter tol in finansies en lewens sou meebring.
Veel eerder was SA – en dan by uitstek agv sy weermag se miskyk van n magspel en feite, as ook wanvertolking van buitelandse gebeure – die slagoffer van n veel groter drama en die onvermydelike herrangskikking van die verhouding tussen die twee hoofgrondwetlike instellings in die VSA mbt buitelandse aangeleenthede.
Deel II
(1666 woorde)
Laat hierdie herrangskikking eers afgehandel word voordat die drama bespreek en ontleed word.
In daardie tydperk was daar nouliks n Amerikaner wat nie realisities die politieke landskap in sy land betrag en ontleed het nie en nie kennis van hierdie grondverskuiwende vewikkelinge geneem het nie. En, terselfdertyd, ook nie die verreikende implikasies daarvan besef het nie. Die senior senator wat die toon hier aangegee het, was niemand minder as die formidable voorsitter van die Senaatskomitee vir Buitelandse Verhoudinge, Senator William Fulbright. Hy was vanaf 1959 tot 1974 voorsitter van daardie komitee. n Uitgesproke kritikus van die uitvoerende gesag wanneer dit gekom het by die omseiling of miskenning van die Senaat mbt buitelandse aangeleenthede. Hieroor was hy onverbiddelik. Sy standpunt het hy in die volgende woorde verewig: “If I have to be at the crash landing, I have to be at the take off”. Hy het hom nie laat stuit deur enige van die presidente van sy tyd nie – Kennedy, Johnson en Nixon. Vandag nog is die War Powers Act van 1973 waaraan hy n leeue aandeel gehad het die wet wat n president mee moet rekening hou indien hy enige aktiwiteit met n militêre implikasie buite die VSA beplan.
Dit kan met weinig vrees vir teenspraak aanvaar word dat Du Toit hieroor ingelig sou gewees het as hy met saakmakende elemente en kundige waarnemers in Washington oor die heersende Amerikaanse opset in gesprek was. Wie ook al sy gespreksgenote in Washington mog gewees het en op wie se beloftes van hulp so staat gemaak is, het klaarblyklik die waarskuwingstekens oor die fondsafkeuring deur die Senaat onderskat of blatant geïgnoreer. Sou enige realis gedink het dat die VSA gou toestemming van watter aard ookal sou kry vir enige buitelandse operasie so kort na die einde van die Vietnam-oorlog. Of was hy egter so vasgevang in sy eie oordeel en gevolgtrekkinge dat die VSA sal help dat deurslaggewende realilteite (en ons weet hoe weermagsinstellings politieke realiteite gering geskat of net bloot afgemaak het wanneer dit gepas het) by hom verby gegaan het of net nie n indruk gemaak het nie. Of was hy so onkundig oor wat werklik in Washington aan die gebeur was. Of was hy naief. Dan was dit maklik om hom n rat voor die oë te draai.
In die drama wat hom terselfdertyd in Washington afgespeel het, was Colby en die CIA van die hooffigure. Dalk lê ‘n ander verduideliking wat met die afsny van die Angola-fondse gebeur het in die feit opgesluit wat in die aanhaling voorkom wat hierbovan Rodman aangehaal is. Dit meld dat Colby die siening onderskryf het dat “… the CIA’s survival depended on working out satisfactorily rather than hostile relations there”. Colby en die CIA het geweet dat hul oorlewing, en veral sy eie, op die spel was. Om hul afsonderlike of gemeenskaplike nekke voor die Senaat te gaan uitsteek vir n “saak” wat hom en hulle weinig in die sak sou bring, sou fataal gewees het. Wat was belangriker as oorlewing. Anders kon nog spykers in hul politieke kiste kom. Betaal eerder n “prys” wat hul niks sou kos nie en oorleef. En die “prys”? Antagoniseer nie die Senaat nie waar die klimaat vir buitelandse optredes kil was en die CIA en sy hoof op dun ys beweeg het. Doen verder niks om die “saak” vir die fondse aktief te bevorder nie. Laat die dobbelstene maar val waar hulle wou.
Kan Colby en die CIA blameer word indien hulle wel so n uitweg gekies het. Wat is makliker as om na die tyd skouers op te trek en jou “vriende” te laat verstaan dat alles buite jou beheer was. Maar, intussen moes hy alles in sy vermoë doen om te oorleef al was dit nog net vir n paar maande.
Colby het beslis belangriker sake gehad om sy onverdeelde aandag aan te skenk. Hy het goed geweet en besef wat sy prioritiete was. Fondse vir Angola en SA was nie op daardie lys nie. Waarom die bietjie politieke krediet wat hy dalk nog oor gehad het op gebruik vir iemand anders se saak wat nie jou eie een kan bevoordeel nie. Wees eerder n kampvegter vir jou eie belang as vir n ander s’n.
Wanneer Rodman verder oor Colby uitwei, word hierdie aandag in perspektief gestel. Dit kry geloofwaardigheid wanneer Rodman voortgaan om Colby en sy posisie in konteks te plaas:
“In truth, predictably as were the consequences of Colby’s capitulation to Congress … the core of the problem can be found {in what} he observed that the balance of power in Washington had shifted to Congress and he had to adapt. (b. 100) … Yet the reality in the mid-1970s was as Colby described it – a major weakening of the executive power. Colby was simply more afraid of the wrath of Congress than the wrath of the president”. (bl. 101. Kursief bygevoeg)
Maar Colby het egter die gramskap van beide op die hals gehaal. So moes hy op twee fronte om oorlewing veg. En op albei het hy en sy organisasie op die ou end aan die kortste ent getrek.
In die Senaat is senator Frank Church op 27 Januarie 1975 aangestel om n deurgrondige ondersoek na die veiligheidsdienste van die VSA te loods. Vergrype van o.a. die CIA binne en buite die VSA moes ondersoek word. Tydens die hele periode van die Komitee se ondersoek in 1975 was Colby die hoof van die CIA – die spreekbuis van sy organisaie voor die Komitee. Die monumentale verslag wat Church 15 maande later uitgebring het, was erg krities oor die CIA. Drastiese aanbevelings is gemaak om die instelling te herorganiseer, beter beheer daarvan te verkry en genoegsame toesig daaroor te verseker. Die verslag se gevolgtrekkings het verwysings na Angola dan ook nie uitgesluit nie.
“Recently, a large-scale covert military operation in Angola was initiated without any effort on the part of the executive branch to articulate, and win public support for its overall policy in Africa”. (bl. 445. Kursief bygevoeg)
‘n Duidelike bewys dat die Ford-administrasie wat die CIA as deel van die uitvoerende gesag ingesluit het nie juis veel moeite gedoen het om hul “saak” oor Angola te stel en daarvoor te pleit nie. Die volgende aanhaling uit die Church-verslag spreek boekdele:
“The Committee finds that major paramilitary operations have often failed to achieve their intended objective. … Most have eventually been exposed. Operations, as in Angola, recently, and Indonesia in the late 1950s, are examples of such paramilitary failures”. (bl. 466. Kursief bygevoeg)
Terwyl Colby en sy CIA uit die Senaat se spervuur probeer bly het, het President Ford ook sy mes vir albei ingehad. Temidde van die magstryd tussen Kissinger en Schlesinger waarin Colby vasgevang was, was die CIA die onderwerp van n ondersoek wat Nelson Rockefeller (Ford se vise-president) gelei het oor die CIA se vergrype binne die VSA. Op 30 Januarie 1976 het Ford van Colby ontslae geraak. (Sy opvolger was George H.W. Bush wat na Reagan president geword het.)
So teen die tyd wat Church sy verslag in April 1976 uitgebring het, was Colby al drie maande geskiedenis. Lank voor Ford se optrede was Colby al n geknakte riet. En sy organisasie was op albei hierdie twee fronte skerp en diep gediskrediteer. Grootskaalse veranderinge het die CIA nou in die gesig gestaar. Nouliks n betroubare bondgenoot. Beswaarlik een om, by wyse van spreke, mee oorlog toe te gaan! Tog het die SA weemag in 1975 sy eiers in hierdie CIA-mandjie gepak – indien nie almal nie, dan beslis genoeg om later heelwat van hul gesigte te vee.
Toe Du Toit en andere in SA sien hul kaartehuis wat hulle so sorgvuldig met hul eie onbekookte verwagtinge gebou het, het in duie gestort, moes n “bron” gekry word wat as sondebok uitgesonder kon word. Hy kon gerieflikheidshalwe een blameer – die SA Ambassadeur in Washington, Pik Botha, wat hom kwansuis n “versekering” sou gegee het om oor te dra. Altyd lekker en gerieflik om n ander te kan blameer … en dan boonop nog geglo te word – hoe kortstondig ook al!
Andere het al geskryf oor hoe die gelykes van Du Toit en die res van die weermag met PW Botha aan die voorpunt vir Eerste Minister Vorster en die regering van die dag met Angola op sleeptou geneem het.
“Evidently, PW Botha was taking matters into his own hands. … Vorster had conveyed to the Defence Minister the urgency with which events in Angola were being perceived by his détente partners in moderate black Africa, with the clear implication that whatever reservations about action there had been among the doves were dissipating accordingly. Thus, PW Botha arrived … with broad prime ministerial approval for action and would treat it – not for the last time – as a rubber stamp body. Yet even this analysis actually understates the degree of autonomy which PW Botha was arrogating to himself”. (Jamie Miller “Into the Quagmire: Reassessing South Africa’s Intervention in the Angolan Civil War, 1975 (University of Cambridge))
Dit is nie nodig om hier verder daarop in te gaan nie. Sekerlik het die weermag toe en daarna militere welslae in Angola behaal. Maar teen watter prys! Op politieke gebied egter was Angola in 1975 vir die weermag die spreekwoordelike mynveld.
Enig iemand wat ‘n aanvoeling en n basiese begrip van die Amerikaanse toneel en politiek van daardie tyd gehad het, het besef dat die SA weermag probeer het om vir hulself dinge wys te maak. Hulle wou sekere dinge graag glo wat lede en, nie die minste nie, hul minister begerig was om te sien gebeur. Eienaardig hoe militêre persoonlikhede deur die jare daardie neiging slaafs nagevolg het al het dit soms tot katastrofale gevolge gelei. Hul eenogige opinies is doodeenvoudig verkondig ten spyte daarvan dat die teendeel so duidelik sigbaar was en teen alle ander waarnemings ingedruis het. Wee die wat ander menings durf waag het. Die weermag het toe en vir baie jare daarna die “beste geweet” – ook wat buite hul ondervindingsveld en verwysingraamwerk geval het!
Deel III
(2042 woorde)
SA aanvaar die vyf westerse lede van die Veiligheidsraad se skikplan vir SWA se onafhanklikheid op 25 April 1978. Op sy beurt aanvaar die Veiligheidsraad hierdie plan as resolusie 431 op 27 Julie 1978. Ingevolge daarvan stel Waldheim, toe Sekretaris-generaal, vir Martti Ahtisaari aan as sy Spesiale Verteenwoordiger om hierdie plan te implementer. Nou begin Ahtisaari sy span saamstel sodat hulle reg kan wees wanneer die Veiligheidsraad die implementering van die plan en die daarstelling van UNTAG magtig. Dit gedoen, tref die span reëlings vir hul besoek aan SWA om ter plaatse gesprekke te voer, en die Gebied te deurreis en hulle van ‘n horde aspekte te vergewis. Vanaf 6 Augustus 1978 is hulle in SWA vir byna drie weke. ‘n Omvattende verslag word vir Waldheim voorberei.
Vier persone vorm saam met Ahtisaari die kern van die groep: Hisam Omayad van Somalië, ‘n politieke deskundige in die VN. Teen daardie tyd het hy al naam gemaak met al die Afrika-vraagstukke wat die Organisasie toe reeds in die dekolonisering van so baie Afrika-lande hanteer het. Bernard Muganda wat ‘n politieke adviseur van president Julius Nyrere van Tanzanië is en met wie Ahtisaari hoogsbevriend raak gedurende sy eie verblyf in Dar-es-Salaam. Generaal-majoor Hannes Philipp van Oostenryk is die militêre bevelvoerder van die toekomstige UNTAG. Cedric Thornberry is ‘n astrante Ier wat Ahtisaari se persoonlike assistent word. Met die vier verkeer ek, soos met Ahtisaari, op goeie voet.
Don McHenry is die VSA se Ambassadeur by die VN. Hy tree op as die onverkose leier van die westerse groep van Vyf. Met die ander vier ambassadeurs hou ek ook goeie kontak, maar met McHenry kom ek die beste klaar. Ons ontmoet weekliks vir middagete. Dan gesels ons baie openlik en reguit. En daar is baie onderwerpe. Hy is uiters goed ingelig oor die VN. Hy verstaan die werkverrigtinge in beide die Staatsdepartement onder Cyrus Vance en Carter se Withuis. Hy is meer as ambisieus. Wil so graag SWA onafhankilk sien in daardie presidensiële era. Wat se veer sou dit nie ook in sy hoed wees nie! Enigiets wat die proses durf vertraag of in gevaar stel, spreek hy heftig en drifting aan. Gooi sy volle gewig in om alles op die spoor te hou.
Op grond van Ahtisaari se verslag lig Waldheim die Veiligheidsraad in. Op 29 September 1978 aanvaar die Veiligheidsraad die nou alombekende resolusie 435. Dit skep UNTAG om onder die gesag van die Veiligheidsraad verantwoordelik vir die implementeringsproses te wees. Dieselfde dag word PW Botha Eerste Minister. Die volgende drie maande spandeer Ahtisaari en sy span om hulleself slaggereed te kry vir hul opvolgbesoek. Vroeg in Januarie 1979 skryf Waldheim aan Pik Botha, Minister van Buitelandse Sake:
“I wish to acknowledge receipt of your letter of 22 December 1978, in which you conveyed your Government’s acceptance of Security Council resolution 435 by communicating South Africa’s decision to co-operate in the expeditious implementation of this resolution”.
Daardie besoek volg later daardie maand. Hierdie keer vergesel ek die groep. Gesprekke in Kaapstad met o.a. die Eerste Minister vind ook plaas. Februarie en Maart bestee hulle om al hul verslae en logistieke vereistes op te stel. Tussendeur hou ek my gewone kontak met die span en McHenry.
En toe gebeur wat ek in my wildste drome nie kon voorsien nie. Vroeg in April 1979 loop ek generaal Philipp een Vrydagoggend in die VN-gebou raak. Ons wissel die gewone algemeenhede. Ek wou nooit eintlik met hom ‘n diepgaande gesprek voer nie omdat ek myself nie bekwaam geag het om oor militêre aangeleenthede opinies uit te spreek of vrae daaroor te beantwoord nie. Op my vraag wat hy die naweek doen, vertel hy waarheen hy reis. Op sy teenvraag noem ek dat ek in die stad gaan bly om n bietjie te ontspan. “Goed” sê hy: “Kom haal vroeg more-oggend ‘n koevert by die ontvangstoonbank van my hotel”. Ek vra hom nie verder uit nie. Hy sê ook niks verder nie. Sy enigste versoek is dat ek die koevert Maandagoggend voor ontbyt by dieselfde ontvangstoonbank vir hom moet laat. Afgespreek en ek wonder waaroor dit alles gaan.
Oor baie aspekte van die onafhanklikheidsplan het SA en die VN vasgesit. Meestal het dit met die militêre gedeelte van die skikplan te doen gehad. Een van die knellendste geskilpunte het oor die toepassing van die vereiste gegaan wat SA en SWAPO se gewapende magte tot hul basisse sou beperk en daar deur UNTAG gemonitor sou word. SA se standpunt is onverbiddelik: SWAPO het geen basisse in die Gebied nie; hul basisse is in Angola en Zambië. Daarenteen is SWAPO se gedetermineerde standpunt: hulle het wel ook basisse is die noorde van die Gebied. Angola en Zambië weier dat UNTAG hul onderskeie soewereine grondgebiede betree. Die noodwendige implikasie van hierdie situasie: SWAPO word nie tot hul basisse in Angola en Zambië beperk nie. Wie kan hul basisbeperking dan daar monitor? Hoe kan daardie kardinale punt in die plan dan toegepas word? Word SWAPO gelyk gegee, kry hulle basisse by implikasie in SWA. Hoe meer SA daarop aandring dat SWAPO en die VN daardie sogenaamde basisse in SWA moet uitwys hoe minder word met die onderwerp vordering gemaak. So sleep hierdie geskilpunt voort. SA kry geen ondersteuning vir sy standpunt nie – nie by die Vyf nie en nog minder by Waldheim. En die frontlinie state steun Angola, Zambië en SWAPO die heel pad.
Met die oopmaak van die koevert sien ek die pak dokumente almal geheim gemerk is. Verslae van Philipp aan Waldheim en Ahtisaari oor die twee waarnemingsbesoeke aan SWA. Twee van sy hoofgevolgtrekkings: SWAPO het geen basisse in SWA nie; wel basisse in die twee buurlande wat UNTAG daar sal moet monitor.
Wat maak ek met die inligting? Sekerlik het Philipp my dit nie laat toekom net om die verslae te lees en dan daarvan te vergeet nie. Hy moes weet – en verwag – dat ek daaroor aan die regering verslag sou doen. My rustige naweek is daarmee heen. Lees die stukke oor en oor. Maak sorgvuldige aantekeninge. Maar maak geen afskrifte nie. Stuur Sondagmiddag ‘n uiters geheime telegram aan Pik Botha. In ses bladsye sit ek Philipp se standpunte uiteen en dra sy hoofgevolgtrekkings woordeliks oor. Lewer die koevert ongeskonde die volgende oggend af. Ek sien Philipp nie weer nie en maak ook nie enige kontak verder met hom nie.
Pik deel die inligting met die Eerste Minister. Hulle besluit dat Pik hierdie inligting met sy verreikende gevolge aan die leiers van die drie opposisie partye in die Volksraad (Colin Eglin – PFP en leier van die amptelike Opposisie – en Vause Raw – Nuwe Republikeinse Party – en John Wiley – die Suid-Afrikaanse Party) verduidelik moet word. Eglin word deur Japie Basson en Raw deur Brian Page na die inligtingsessie vergesel – die twee partye se segsmanne oor buitelandse sake. Wiley is op sy eie. Pik deel met hulle hierdie sensitiewe inligting sonder om my bron bekend te maak. Ek is onbewus van die ontmoeting in Kaapstad.
Woensdag besoek ek McHenry in sy kantoor. Ons handel af wat ons wou bespreek. Aan die einde kom sy terloopse opmerking-vraag: “Colin Eglin called me earlier today. He asked what it was all about Pik telling him. I could not help him. Do you know what Pik is up to?” Ek verseker McHenry dat ek nie ingelig is oor so n gesprek tussen hierdie twee nie.
Terug op kantoor doen ek per telegram verslag oor wat met McHenry bespreek is. As laaste paragraaf – en byna as ‘n laatgedagte – voeg ek by dat Eglin vir McHenry gebel het om hom oor Pik se mededelings uit te vra. Hierdie telegram word die spreekwoordelike kat in die duiwehok. Die Eerste Minister en Pik is hoogs die hoenders in. Hulle beskou dit as ‘n geval van growwe onverantwoordelikhied. Eglin kan nie met sensitiewe inligting vertrou word nie – ook nie in die toekoms nie. ‘n Vertrouensbreuk ontstaan. Harde woorde begin te val. Nou is daar net een uitweg. Die Volksraad en die publiek moet weet wat Eglin agter Pik se rug gedoen het.
In die Volksraad is Pik op sy stukke, soos verwag kon word! Hy konfronteer Eglin oor die oproep. Hy daag Eglin uit om te verduidelik wat hy met McHenry bespreek en aan hom oorgedra het. Waarom maak hy na die ontvangs van sulke sensitiewe inligting nogtans so ‘n oproep. Eers ontken Eglin dat dat hy McHenry gebel het. Pik beskuldig hom dat hy die Volksraad mislei. Pik nie links nie en lees die laaste paragraaf van my telegram voor. Eglin erken hierna dat hy wel die oproep gemaak het. Nie om sensitiewe inligting oor te dra nie maar om by McHenry duidelikheid oor sekere van Waldheim se voorstelle te kry. Behalwe vir die PFP-lede glo weinig ander volksraadslede hom. Nou word die spot met die leier van die amptelike opposisie gedryf. Gebare van n telefoon teen die oor; uitroepe van “trieng, trieng” en tussenwerpsels van “Al vir McHenry vandag gebel?” kom tydens sy toesprake voor. Hoe houdbaar is sy posisie?
Paasnaweek kom nader. Voor die naweek kry ek ‘n opdrag. Pik wil my die volgende Woensdag in Kaapstad spreek. Die vlug is ‘n bekommerniswekkende ondervinding. Ek kan tog nie meer besonderhede gee as wat die twee telegramme reeds bevat nie. Pik verduidelik tydens die ontmoeting: “Ek het gereël dat jy die vier politieke partye se onderskeie studiegroepe oor buitelandse sake ontmoet en hulle vrae beantwoord”. Ek is nie juis te gelukkig oor die moontlikheid dat ek nou in ‘n politieke spervuur kan beland nie – veral met die slegte gevoel wat toe reeds tussen die regering en die PFP en veral hul leier en die leier van die amptelike Opposisie bestaan. ‘n Verkeerde woord kan my sink. Dit kan onmeetbare skade aan SA se verhouding met Waldheim en die VN meebring, hoe troebel dit toe dan nou ook al reeds was.
Eerste aan die beurt is die Nasionale Party. Binne ‘n uur is alles afgehandel. Die lede wat opgedaag het, is tevrede. Toe die NRP. Raw en Page het nie veel vrae nie. Nog ‘n maklike sessie is verby. Die ontmoeting met Wiley is eintlik net om koffie te drink. Toe lê hef aan voor. Vyf senior lede van die PFP is teenwoordig, insluitend Japie Basson, Harry Schwartz en Van Zyl Slabbert. Eglin is nie teenwoordig nie. Meer as twee ure staan ek bont. Vrae kom en verduidelikings word gesoek. Schwartz is oudergewoonte en getrou aan sy reputasie skerp en aggressief. Hy, meer as Basson, lei die verrigtinge. Slabbert is stil en vra hoflike vrae. Niemand vra my uit oor wie my bron is nie! Ek gee ook geen aanduiding nie. Of hulle tevrede is, weet ek nie. Niemand gee ‘n aanduiding nie – dankie en totsiens. Op 1 Mei – byna tien dae daarna – skryf Basson ‘n brief aan Pik. ‘n Afskrif word aan my gestuur:
“Mnr. Eksteen se ontmoeting met ons Buitelandse Sakegroep was vir al die lede wat teenwoordig was van besondere waarde. Hy het perspektief aan verskeie belangrike vraagstukke gegee, en ek sal bly wees as dit aan hom oorgedra kan word dat die lede beïndruk was deur sy begrip van sake en die uiters bekwame manier waarop hy op hul vrae geantwoord en hulle ingelig het”.
Wat later in die geledere van die PFP gebeur het, is ou nuus. Slabbert is die nuwe leier van die amptelike Opposisie. By sy aftrede het Eglin die opmerking gemaak: “Ek sal vir geen oomblik ontken dat my hantering van die McHenry-sage baie lomp was nie”. (Beeld, 23 Okt. 2003)
Intussen begin allerlei gerugte in New York die rondte doen dat Philipp op pad uit is. Hy bots te veel met Ahtisaari en sy landgenoot, Waldheim. ‘n Verslag van hom word as moontlike rede genoem. Teen die einde 1979 is Philipp ook uit sy pos. Waldheim vervang hom met lt.-genl. Prem Chand van Indië. Elf jaar later word resolusie 435 uiteindelik geïmplementeer.
Nooit weer vir Philipp of Eglin gesien of van hulle gehoor nie. Tydens my dienstermyn in Geneve geniet ek en Slabbert middagete in 1993. Ek roer die oproep van Eglin aan en vra: wat dink hy sou gebeur het as ek nie daardie een sin oor die oproep in my telegram ingesluit het nie. Sy beskeie maar veelseggende antwoord: “Wie kan sê?”
Recent Comments