Tyd vir ‘n nuwe uitdaging
In die meer as 21 jaar sedert ek by die SAUK weg is, het ek al dikwels nabetragting oor my dienstyd
aldaar gehou. Aan die begin van 1983 het ek reeds met groot genoegdoening twee top poste in
Buitelandse Sake beklee: Ambassadeur by die VN in New York en Hoof van Beplanning op
hoofkantoor. Dit waarby ek ses jaar lank (1976–1982) elke dag en baie nagte intens betrokke was –die
implementering van resolusie 435 vir Namibië se onafhanklikheid – het om bepaalde redes in die
sand begin loop. Vooruitsigte vir werklike vordering daarmee was allermins rooskleurig.
Gevolglik was ek op 40 lus en reg vir ‘n ander en besondere uitdaging toe die Raad van die
Uitsaaikorporasie my in Februarie 1983 nader om die pos van Direkteur-generaal te aanvaar. Ek het
dit inderdaad as ‘n enorme uitdaging beskou. Baie van die besluite wat ek geneem het, waarin die
Bestuurskomitee my ondersteun het en wat die Raad op sy beurt goedgekeur het, is vandag nog daar
– o.a. Radio Metro (nou Metro FM ), Radio 2000, Radio Jakaranda en Radio Oranje (beide
nou suksesvol geprivatiseer, lg. as OFM) en die oggendnuusprogram op TV. Tog jammer dat die
Raad die ooreenkoms vir aandeeluitruiling tussen TV4 en M-Net, wat ek met Ton Vosloo en Koos
Bekker onderhandel en in Junie 1985 geteken het, nooit wou goedkeur nie. Die Voorsitter wat toe so
pas aangestel was, dr. Brand Fourie, het die Raad oortuig dat M-Net nooit lewensvatbaar sou wees
nie.
By tye was dit moeilik – indien nie byna ondraaglik nie – om my taak te verrig. Nie om die instelling te
bestuur nie, maar aanhoudende inmengery en aftakelende kritiek het my ongevraagd tydig en
ontydig op vernederende wyse oorstroom.
‘n Belangrike faktor vir die gesonde funksionering van ‘n Nasionale Uitsaaier, soos die SAUK, is en
bly die Staatshoof. Daardie verhouding moet egter, soos enige ander werkende een, op
ewewigtigheid en wedersydse respek gebaseer wees, anders ontaard alles later in ‘n klug en loop
op ‘n fiasko uit.
In die beginjare was daar ‘n welwillendheid van president Botha (PW) teenoor my gewees. Ek het
hom gereeld gesien. Ons was by ‘n paar geleenthede saam op jagtogte. Hy het briewe aan my
geskrywe om my vir die een of ander te bedank en selfs om my met sekere inisiatiewe geluk te wens.
Soms was hy krities. Ons kon daaroor gesels en ek kon voortgaan. Ander kere was hy driftig. Dan
wou hy nie na geen rede luister nie. Maar, êrens het iets verkeed begin loop. Hy het ‘n ongekende
wrewel in die SAUK en ook in my begin kry.
Tydens die Raadsvergadering op 5 November 1986 lees ek die volgende voor:
“Dit is met jammerte dat ek moet noem dat die Staatspresident ongelukkig is met die
hantering van ‘n nuusbulletin waarin hy nie gereflekteer is nie. Dit was die geval in die 20:00-
nuusbulletin op 27 Oktober 1986. In die 18:00-bulletin vroeër die dag is hy wel persoonlik in
beeld gebruik.
“Oor die aantal jare waarvan ek DG is, het dergelyke voorvalle van ongelukkigheid hulle in ‘n
meerdere of mindere mate voorgedoen. Baie kere kon die omstandighede verduidelik word
waaraan die ongelukkighede toegeskryf of gewyt kon word. Nou het ‘n ander situasie
ontstaan deurdat ‘n vertrouenskrisis ontstaan het omdat die staatshoof voel dat die SAUK
homself op ‘n ander pad as hy bevind. Ten spyte van absolute versekering dat dit geensins
so is nie kon hy nie oortuig word nie. Gevolglik het ek geen ander keuse nie as om die Raad
te versoek om oor die meriete van hierdie aangeleentheid uitspraak te lewer.”
Nodeloos om te sê het die Raad my bloot aangehoor en net kennis van my mededeling geneem. Soos
soveel kere daarna het ek geen ondersteuning gekry wanneer dit by enigiets gekom het in sake
waarby PW betrokke was nie. Dat die lede hom ter wille was, was nie eens ‘n kwessie nie. Terwyl
sommiges darem in privaatgesprekke teenoor my hul ontevredenheid met die inmengery
uitgespreek het, het hulle dit in Raadsittings nooit eens genoem of daarna verwys nie.
Wat van hulle wel kon doen, was om PW se naam te berde te bring wanneer dit hulle gepas het. Soos
gen. Koos van Zyl, ‘n voormalige kapelaan-generaal van die Weermag met blindelingse lojaliteit vir
PW, toe hy op ‘n Raadsvergadering voorgestel het dat ‘n spesiale direktoraat vir Godsdiens ingestel
moes word. Ek het op sekere praktiese aspekte gewys wat eers afgehandel moes word sodat die
voorstel dan behoorlik aandag kan geniet. Hy het na my opmerking opgestaan, agter my kom staan
en in my oor gefluister: “As jy nie saamgaan met die voorstel nie sal ek geen ander keuse hê as om
die President mee te deel dat jy nie wil saamwerk nie”. Die generaal het sy sin gekry, soos by vele
ander geleenthede, bv. ook met die aanstelling van sy kandidaat as eerste hoof van “sy” Direktoraat,
en met die beëindiging van direkte kerkuitsendings. Opnames het hul verskyning gemaak. Sodoende
kan gekeer word “dat mense, soos Tutu, hul standpunte onbeheersd verkondig”. In elk geval is geen
diens van biskop Tutu daarna weer uitgesaai nie.
Verhouding word suurder
Waar het sake tussen my en PW begin skeef loop en tot die punt versleg waar hy my nie meer kon
verdra nie? Vir hom was die Staatsveiligheidsraad (SVR) ongelooflik belangrik. Wat daar bespreek en
besluit was, was evangelie en dit het hy gepredik. Die werksarm daarvan was die Werkskomitee (WK)
wie se voorsitter dan ook die sekretaris van die SVR was. Ek moes die WK se vergaderings bywoon
sodat ek kon weet van die aanslae teen die land en hoe die regering situasies hanteer en moes
beheer met strategie wat die WK bespreek en aanbeveel het. Gevolglik het ek al die dokumente van
die WK ontvang. My teenwoordigheid was nooit in enige notule of aanwesigheidslys opgeneem nie.
Na vier jaar het ek besluit dat die senior nuusdirekteur dit maar kon bywoon, as hy wou. Dit het
sieldodend geword om elke tweede week in die WK te luister na hoe die rewolusie in en teen SA
bekamp word en hoe vordering daarmee gemaak word, terwyl jy weet dat die teendeel eerder waar
was en die buitelandse strop net al nouer begin trek sodat iets êrens moes meegee. Die
dokumentasie en besprekings het, met respek, allermins enige perspektief verskaf wat
nuusaanbieding en -analise kon verbeter. Baie duidelik was my volgehoue afwesigheid by die WK
aan PW oorgedra as synde die voorsitter van die SVR. So kom ek een aand by ‘n onthaal van die
Hoof van die Weermag aan. Ek groet PW. Hy beveel my om langs hom te kom staan. Hy roep sowat
ses senior generaals nader. Gretig hoor hulle: “Hier is die man wat homself verwerdig om nie meer
die WK by te woon nie. Hy dink mos hy hoef hom nie aan die WK en die SVR te steur nie. Ek het nuus
vir hom. Dankie, u kan maar gaan, mnr. Eksteen”. Op pad huis toe wonder ek waar en wanneer die
bom gaan bars.
PW se bynaam
Nie lank daarna nie kry ek ‘n oproep van min. Pik Botha, wat toe ministeriële verantwoordelikheid vir
die SAUK gehad het. Die SVR het daardie oggend besluit dat die Voorsitter met my “in gesprek moet
tree” oor ‘n TV-program wat uitgesaai word. Die karakter in die fiksieprogram “V” verander in die nag
in ‘n krokodil en vreet dan mense op. PW beskou die program as ‘n aanval op hom. Elke plakaat
met sy foto in Pretoria se strate vir die komende NP-kongres is met ‘n “V” geverf. Ek gaan spreek
hom dadelik en verduidelik die fiksieprogram wat weekliks as deel van n reeks op TV4 uitgesaai
word. Ek kan dit nie net sommer afhaal soos die SVR besluit het nie. Daar is implikasies wanneer soiets
gedoen word, maar ek sal die program na ‘n later tydsgleuf verskuif en die episodes nie meer
weekliks nie maar elke aand aanbied. Sodoende kom die reeks gouer tot ‘n einde. Sy reaksie: “Jy kan
ook nie wag om die land in vlamme te sien opgaan nie. Dit wil jy natuurlik so gou as moontlik doen.
Maar as jy so wil voortgaan, moet jou besluit nie vir my kom gee nie. Doen dit skriftelik en rig dit aan
die Voorsitter van die SVR. Dan sal die SVR daaroor besluit”.
Wat die verband sou kon wees tussen die land in vlamme te laat opgaan en ‘n fiktiewe TV-karakter
bly vir my duister; ook dat die SVR hom met so ‘n onderwerp besig hou. Vir die eerste keer begin ek
werklik skrik. Nou het PW die SVR agter hom en daarmee saam ‘n wet wat hy kan gebruik teen dié
wat die SVR (lees “PW”) die harnas injaag.
In die salamiproses het PW toe nou al ‘n paar dik skywe gesny.
Voorspel tot die oproepe
Ter voorbereiding van die besprekings van die SAUK in die Parlement moet ek min. Alewyn
Schlebusch, toe die verantwoordelike minister vir die SAUK, op 23 Augustus 1987 spreek. Hy open
die gesprek met n klagte: “Riaan, ek het ook nou n tweede baas vir die SAUK bygekry – mev. Elize
Botha”. Hy verduidelik: “Sy het my vanoggend gebel. Sy is baie onsteld oor wat die SAUK gisteraand
aan die Staatspresident gedoen het met die TV-dekking van sy optrede by die NP-kongres in
Bloemfontein. Sy is nie net ongelukkig oor hoe die President behandel is nie, maar ook dat sy totaal
geignoreer was”. Hy rig sy versoek geklee in n opdrag: “In die toekoms moet jy sorg dat mev. Botha
in persoon, en veral wanneer sy saam met die president verskyn, behoorlike dekking op TV kry”. Sy
waarskuwing: “Indien dit nie gebeur nie gaan jy baie probleme kry”. Hy eindig: “Ek dink ook dat die
SP te min aandag gekry het”.
Min weet ek dat daardie probleme binne 24 uur werklikheid word.
Twee oproepe
Op die aand van Maandag, 24 Augustus 1987, sny PW toe sekerlik die dikste skyf terwyl ander
namens hom die finale skywe in die daaropvolgende sewe maande sny. Hy bel my twee keer tydens
die agtuur TV-nuusbulletin. Hy is siedend oor die dekking van min. Allan Hendricks se uittrede uit
die kabinet. Die eerste keer skreeu hy: ” Jy’s gef****n fire” en snou hy my verder toe: “Jy’s nie in
beheer van die SAUK nie”. My antwoord was dat die Voorsitter van die Raad hier naby is en ek hom
van sy (PW) se opmerkinge sal inlig. Hierdie opmerking het ek gemaak omdat die SAUK-wet van
destyds bepaal het dat net die Raad die DG kan verwyder. Hiervan was ek doodseker. As gevolg van
PW se talle oproepe, klagtes en tantrums (vloermoer is eintlik hier ‘n baie meer gepaste term) het ek
‘n regsopinie deur ‘n senior regsadviseur van buite die SAUK gekry wat bevestig het dat enige hof
daardie bepaling so sou toepas. Die tweede oproep kom so vyf minute later. Hy bulder: “Wat gaan jy
doen om die saak reg te stel en die feite te gee dat EK hom ‘gefire’ het en hy glad nie bedank het
nie?” Kort voor hierdie tweede oproep het ek reeds opdrag gegee oor wat Freek Robinson moet
voorlees. Ek antwoord PW soos volg terwyl ek in gedagte hou dat ek nie nou meer veel oor het om
by die SAUK te verloor nie aangesien ek dan nou reeds “gefire” sou wees: “Kyk u nog nuus? Indien
wel, sal u na die weervoorspelling en voor die einde van die nuusprogram sien wie in beheer van die
SAUK is en wat ek gedoen het om die feite weer te gee”.
Na dese het ek geweet die skrif is aan die muur vir my.
Amper weer ambassadeur en toe bergop
Die volgende oggend (Dinsdag) moet ek min. Schlebusch gaan spreek. Hy is deel van die Presidensie
met ‘n kantoor in Tuynhuys. Na so 30 minute haal hy sy skouers op en sug: “Ons (lees “die
Afrikaner Broederbond”) kan jou nie help nie. Die President is vasbeslote dat jy moet gaan. Ek sal
met kollega Pik praat dan kan hy jou ‘n ambassadeurspos gee, moontlik in Israel”. My reaksie skok
hom. Hy reken ek is ondankbaar. ”Ek was reeds ‘n ambassadeur – en dit by die VN wat een van die
topposte is. ‘n Ambassadeurstitel is nie meer vir my belangrik nie. Nog te meer sal dit hoogs
onregverdig wees teenoor die ambassadeur in Israel om nou sy pos vir my te moet ontruim”.
Hoekom hy die AB opgehaal het, sal net hy weet. Ek het nie daarna verwys nie – nog minder gedink,
gevra of verwag dat die AB my moes bystaan nie.
Na hierdie gesprek loop ek vir Kobus Hamman, Adjunk-direkteur-generaal: Nuus, raak. “My loopbaan
by die SAUK is op ‘n einde. Joune mag ook dalk binnekort wees. Dit is so ‘n mooi dag. Kom ons gaan
Tafelberg op en geniet die oggend daarbo”. Die Burger dra die volgende dag n voorbladberig dat ek
op die berg gaan peins het. Dit tesame met wat min. Schlebusch sekerlik vir PW meegedeel het, het
PW briesend gemaak. Ek moes hom Woensdagmiddag gaan spreek. Hy het agter sy tafel gesit en
behoorlik die vloer met my gevee. Êrens na daardie ontmoeting en Vrydagoggend is hy klaarblyblik
geadviseer dat hy, selfs as staatshoof, my nie kan afdank nie. Iemand het die SAUK-wet behoorlik vir
hom geïnterpreteer. So word ek weer ontbied. Die keer om hom Vrydagmiddag te gaan sien. Die keer
het hy opgestaan en my halfpad van die deur af ontvang. Ons het op die leunstoele gaan sit. Tee is
aangebied. Na so 15 minute was sy slotwoorde: “Ons het ons verskille gehad. Ek’s nie kwaad vir jou
nie. Wat my betref, kan jy by die SAUK bly so lank soos jy wil. Jy kan daar aftree as jy wil”. Ek het
uitgestap en by myself gedink: as ek ooit op dun ys was, was dit nou. Iewers gaan hy die Raad kry
om besluite te neem wat my sal uitwerk.
Die Raad tree op en my besluit om die SAUK vaarwel toe te roep
Nie lank daarna nie, met die volgende vergadering, neem die Raad ‘n hele reeks besluite om my
bestuursmagte in te kort. Daarna stel die Raad twee konsultante van buite aan, menere Laubscher
en Haasbroek, wat die Korporaise van geen kant ken nie. Hul opdrag: Ondersoek die SAUK (lees
“Eksteen”). Hul verslag is nooit bekend gemaak nie. Op 20 April 1988 is ek weg by die SAUK.
Drie dae voor ek weg is, versoek ek om die Voorsitter van die Raad te spreek. Reeds in Buitelandse
Sake het ek en dr. Fourie ‘n yslike lang pad saam geloop. By die SAUK was ons verhouding egter
nooit so besonders nie. Ek dra drie punte aan hom oor:
1. Die Raad verwag dat ek moet bedank. Ek sal nie. Ek het niks verkeerds gedoen nie. Tot
nou toe het nóg die Raad nóg enigiemand anders my al ooit aangespreek oor enigiets wat
ek dan kwansuis verkeerd sou gedoen het. Sover dit my betref, is hierdie opsie nie
moontlik nie.
2. Die Raad dank my af. Omdat ek reeds twee senior regsadviseurs genader het om
onmiddellik ‘n saak in die Hooggeregshof aanhangig te maak, sal hy as voorsitter en al
die lede van die Raad as getuies gedagvaar word. Dan kan al die ongelukkighede van PW
in die openbaar hanteer word. Sy reaksie: “Riaan, jy kan dit nie doen nie”. (Onwillekeurig
draai in my kop die uitdrukking: “Try me”.) Dus wat hom betref, was hierdie opsie ook uit.
Nou het net die derde een oorgebly.
3. Ek gee aan hom die volgende oggend die voorwaardes waarvolgens ek vrywillig die diens
van die SAUK sal verlaat. Hy aanvaar die opsie.
Die rede wat oor my vertrek gegee word, kom van min. Stoffel van der Merwe, toe verantwoordelik
vir die SAUK:
“Die SAUK sou nie die bult met Eksteen uitgekom het nie”.
As ‘n mens al ooit van ‘n belaglikheid gehoor het om die President te plesier, dan was dit beslis
hierdie ene. In dieselfde trant dink ek ook terug aan die vermaning wat min. Adriaan Vlok by
geleentheid aan my gerig het: “Jy moet net maak soos ons almal. Maak wat die President beveel. Jou
probleem is dat jy dit nie doen nie”.
Ander oproepe en stommiteite
Hoeveel keer PW self gebel het of iemand gekry het om sy ontevredenheid oor te dra, kan ek nie
onthou nie. Ek het nooit rekord gehou nie. Maar dit was baie. Twee van die meer komiese
geleenthede – in retrospektief: Een aand woon ek ‘n teateropvoering as gas van dr. Conrad Strauss
in Johannesburg by. So teen 20:15 versteur ‘n plekaanwyser die atmosfeer met sy flitslig en soek my
vir ‘n oproep van die President. PW is buite sy sinne. Dr. M. Buthelezi was op die nuus. “Is dit die
beste k***** wat jy kan kry om ten toon te stel. Ek wil nie weer sy gesig op TV sien nie”. Jare daarna
het ek die insident vir dr. B vertel. Hy het ook maar net gelag en sy kop geskud.
Een naweek is ek ‘n gas van Werner en Mimi (Coertse) Ackerman op hul wildplaas langs die Krugerwildtuin.
Die Vrydagaand sit ons na ete tot laat om die vuur. Iemand kom deur die bosse aangejaag.
‘n Polisiebeampte storm die lapa binne op soek na my. Die President wil dringend met my praat. Ek
moet kom om hom te bel. Ek klim in my motor en kom kort voor 23:00 by ‘n telefoon uit. Die hoof van
huishouding by Libertas vertel my dat PW al slaap. Ek dring aan om met hom te praat want hy soek
my dan. PW is hoogs beswaard. In die agtuur- TV-nuusbulletin is nie al 24 name van die lede van sy
Ekonomiese Adviesraad uitgelees wat hy daardie middag aangekondig het nie.
Reagan en ‘n spelfout
Maande nadat ‘n nuusitem uitgesaai is, reken PW dat dit destyds onjuis was. Eers toe dit in ‘n
verkiesingsveldtog teen hom gebruik word, dring hy op ‘n verskoning aan. Ek stuur hom ‘n
verskoningsbrief op 1 Julie 1987 vir die “ foutiewe parafrasering en vir enige verleentheid wat dit
veroorsaak het”. In sy antwoord van 7 Julie 1987 bedank hy my vir die brief en voeg dan by:
“Dit verbaas my dat, waar ek die toespraak in Septembermaand verlede jaar gehou het, daar
nou eers daartoe oorgegaan word om verskoning te vra daarvoor, nadat hierdie besondere
beweerde uitlating van my misbruik is gedurende die algemene verkiesing”.
Waarmee hy sy brief afgesluit het, moes ook al vir my ‘n aanduiding gewees het van wat gaan kom:
“Ek hoop dat die SAUK versigtiger sal wees wanneeer hulle berigte oor toesprake van my
uitsaai. Ek het nie veel hoop dat dit sal gebeur nie, want ek het deur die afgelope jare en
maande soveel teleurstellings gehad dat ek nie my hoop op ‘n beter bedeling plaas nie”.
Wat my egter meer in hierdie brief opgeval het, was dat die staatshoof in ‘n amptelike brief die
volgende konstateer:
“Ek moet u aandag ook vestig op ‘n spelfout in die tweede paragraaf van u brief aan my”.
Hy moes baie tyd gehad het om ook aan sulke klein dingetjies aandag te kon gee; dit in teenstelling
met wat hy my by geleentheid geantwoord het. Ek gaan spreek hom nadat ek op uitnodiging van ‘n
vriend van my, Mark Goode, Washington in September 1984 besoek waar hy kommunikasiehoof vir
Reagan was. Ek leer ontsettend baie oor hoe Reagan voorberei word vir elke geleentheid waar hy op
TV en radio optree. Daarom was dit nie snaaks dat Reagan as “the great communicator” bekend
gestaan het nie. Terug in Pretoria lig ek PW in oor wat ek voel ook hier gedoen kan word. “Reagan
mag miskien tyd hê om aandag aan sulke goed te gee. Nie ek nie, ek is ‘n besige man”.
Lid van die AB
In 1978 het ek lid van die AB geword en in 1992 bedank. My lidmaatskap was nooit ‘n oorweging in
my aanstelling by die SAUK nie. Voor my aanstelling het ek die Voorsitter van die Raad, prof.
Wynand Mouton vir wie ek deur die vuur sou loop, spesifiek daaroor uitgevra omdat hy ‘n senior lid
was. Sy antwoord het my tevrede gestel. In al die gesprekke en besluite tussen ons het die AB nooit
ter sprake gekom nie. Nêrens was dit by ons twee ooit ‘n oorweging gewees nie. Sy opvolger, dr.
Fourie, was nie ‘n lid nie. Ek het geweet dat daar personeel was wat wel lede was. Tydens my
ampstermyn is geen besluit geneem op basis van wie lid was of nie was nie, of wat die AB sou wou
sien gebeur nie. Tot my kennis is geen AB-vergadering in die SAUK ooit gehou nie. Ek sou dit ook
nie toegelaat het nie – daarvoor was daar die afdelingsvergaderings wat lede elke maand in hul eie
tuisomgewings moes bywoon.
Het my lidmaatskap van die AB enige voordele ingehou? Allermins, maar sommige lede het hulle tog
geroepe gevoel om by geleentheid daardie lidmaatskap voor my kop te gooi.
Met die radiodienste se rasionalisasie vanaf 1 Januarie 1985 verdwyn Springbok Radio. Die
Afrikaanse en Engelse Diens se name verander na Radio Suid-Afrika en Radio South Africa
onderskeidelik. Radio 2000 word ingestel. Op eersgenoemde twee word nou vir die eerste keer
advertensies geplaas. Sigaretadverteerders het ingespring om op die twee dienste hul advertensies
te plaas wat toe reeds jare lank al op Springbok Radio gehoor was. Kort na die eerste uitsendings
daarvan op Radio Suid-Afrika kom prof. Andries Brink, voorsitter van die Mediese Raad, my dringend
spreek. “Ek is hier met die goedkeuring van president Botha en namens ons groep” (bedoelende die
AB). Sy betoog was dat die advertensies sleg is vir die gesondheid van luisteraars. Ek het hom op
twee feite gewys: Eerstens, dat die advertensies nie luisteraars aanmoedig om te rook nie. Net om,
indien hulle wel rook, dié besondere produk te koop. Tweedens, dat sodanige advertensies reeds
baie jare lank op Springbok Radio gedra was en nog steeds op alle swart radiodienste uitgesaai
word. Geeneen het nog ooit gevra dat hierdie advertensies op daardie dienste verwyder moes word
nie, soos wat hy nou kom vra dat hulle op Radio Suid-Afrika afgehaal word. Sy reaksie: “Die nuwe
diens in Afrikaans is anders”. My antwoord daarop: “Wanneer dit by swart longe kom, is dit nie ‘n
problem nie, maar moet net nie iets doen wat wit longe kan benadeel nie”. Die advertensies is nie
afgehaal nie.
Radio Allegro is ingestel om klassieke musiek na 21:00 op die senders van Radio South Africa uit te
saai terwyl die oorspronklike klankbaan van oorgeklankte TV programme op die senders van Radio
Suid-Afrika gedra is. Een Maandagoggend was ek skaars op kantoor toe ek ‘n oproep van Min.
Sclebusch kry om dadelik na sy kantoor te kom. Weer terug Pretoria toe – ek het in Pretoria gebly. Hy
noem dat hy die vorige aand van Bloemfontein per motor na Pretoria gereis het. Hy na Radio Suid-
Afrika geluister en na 21:00 moes hy die sender van Radio South Africa soek omdat hy Radio Allegro
wou luister. Ek verduidelik die redes vir die besluit om die senders so aan te wend. Sy reaksie:
“Waarom moet ons mense (lees “die Afrikaners”) altyd die opofferings maak en van stasie verander,
verstaan u?” Nee, omdat ek nie verstaan het nie is die besluit nie verander nie.
Standpunt oor Nelson Mandela
In 1987 versoek die Voorsitter van die AB, prof. Pieter de Lange, my om ‘n dinkskrum saam met hom
en tien ander lede by te woon. Ons moes besin oor die vraag: Moet Nelson Mandela vrygelaat word?
‘n Standpunt daaroor moet op versoek van die regering oorgedra word. My standpunt by die
vergadering was dieselfde as dié wat ek in ‘n memorandum gehuldig het toe ek in 1982 Hoof van
Beplanning in Buitelandse Sake was. Toe het min. Pik Botha my versoek om ‘n memorandum op te
stel om hierdie vraag vanuit ‘n Buitelandse Sake-perspektief te beantwoord. Hy het volmondig met
my gevolgtrekkings en aanbeveling saamgestem en dit net so aan die Kabinet vooorgelê. Die Eerste
Minister (PW) se kommentaar daarop: “Die een wat die stuk opgestel het, weet nie waarvan hy praat
nie”. Op die AB-vergadering skiet die Hoof van Nasionale Intellegensie, dr. Barnard, my siening aan
flarde. Hy eindig sy betoog: “Duidelik weet en besef mnr. Eksteen nie watter gevaarlike persoon
Mandela is nie. Om hom vry te laat, sal net ‘n rewolusie veroorsaak”. My standpunt in albei gevalle:
laat hom vry. Hoe langer hy aangehou word, hoe groter martelaar word hy in die oë van die wêreld.
Hy gaan ‘n status verwerf wat later so groot sal wees dat die regering dit net nie meer sal kan hanteer
nie. Mnr. Mandela besoek Geneve in Mei 1993. Ek is ambassadeur by die VN aldaar. In ‘n lang
gesprek vertel ek hom van albei insidente. Sy reaksie in Afrikaans: “Riaan, jy en Pik was reg”.
Heildronke op PW en die ironie van sy dood
Op 20 Oktober 1986 kuier ek by my vriend, Jan Tromp, wat ‘n sterk vertrouelige van verskeie senior
kabinetslede was. Onvermydelik gesels ons oor PW want Jan was goed bewus van my toenemende
probleme. Sy bemoedigende woorde: “ Hou net uit. Ek het dit op goeie gesag dat PW binne agt
maande gaan uittree”. Ek betwyfel dit. Jan is seker van sy saak. Ek wed hom 10 teen een. Die
betaling: kiste whiskey. Op 20 Junie 1987 laat Jan 10 kiste whiskey by my aflewer.
Die ironie van alles rondom my en PW is dat hy op my verjaarsdag, 31 Oktober, oorlede is.
Miskien was Suid-Afrika tog gelukkig dat P.W. Botha president was anders het ons dalk nooit besef
dat meningsverskil tog patrioties is nie.
Recent Comments