Die hoogs interessante artikel van Johan Pretorius (“Die dag toe PW gegroet het”, Rapport en Netwerk24 van 30 Augustus 2015) gee perspektiewe wat weereens die kompulsiewe optrede van PW Botha illustreer. ’n Paar aspekte wat Pretorius nie toelig nie is tog relevant en behoort vermeld te word – dit gee ook ’n verdere kykie in die “ou” SAUK.

Toe ek as destyds Hoof van die SAUK vir Johan aangewys het om feitlik sy volle aandag aan gebeure in en rondom Tuinhuys te gee (en waar hy binne die SAUK goediglik na verwys was as die tuinwerker, want wie sou eintlik so n werk wou doen!) was die besluit nie net sommer so geneem nie. Na die “afdankingstelefoonoproepe” van PW aan my in Augustus 1987 moes besin word oor hoe die SAUK hom en sy openbare optredes in die toekoms sou hanteer. Hierdie nuwe dimensie het genoodsaak dat ’n eiesoortige besluit geneem moes word.

Die Minister in die Presidensie, Alewyn Schlebusch, wat ook toe vir die SAUK ministeriële en parlementêre verantwoordelikheid gedra het, het my met die volgende vraag tydens n ontmoeting in sy kantoor kort na hierdie telefoonepisode gekonfronteer: “En hoe gaan u sorg dat die SAUK voortaan die Staatspresident se optredes behoorlik en gepas sal aanbied?” Die hoogs twyfelagtige voorreg het Pretorius toe aan die begin van September 1987 te beurt geval. My hart het menig maal vir hom gebloei; wat toe sekerlik in die SAUK die ondankbaarste pos was om te beklee.

Pretorius is nie deur PW voorgesê oor wat om te gebruik en wat nie. Die doel met die oefening was eerstens om PW se optredes op nuuswaarde te hanteer (en nie wat PW noodwendig gedink het wat maak hom nuuswaardig nie) en tweedens om die ingeboude agterdog wat altyd by PW aanwesig was, te probeer “bestuur”. In lg. proses was dit meestal om dit met afstandsbeheer te doen. So was Pretorius se weeklikse teedrinkery by mev. Botha nie om net haar fyngebak te gaan geniet nie.

In die omvang van PW se gesondheid is die volgende ook ter sake. Middel Desember 1986 is my en die President se verhouding ontspanne, vriendelik en soms hartlik. So breek die tyd aan dat ’n SAUK-TV span sy Nuwe Jaarboodskap opneem waar hy reeds met vakansie in die Wildernis is. Twee dae daarna kyk ek en die twee mees senior amptenare verantwoordelik vir nuus na die opname. Dit tref ons dat PW se een mondhoek effens meer hang as andersins. Ek bel hom en verduidelik ons besorgdheid dat indien hierdie opname uitgesaai word, kan lastige vrae oor die Staashoof se gesondheid ontstaan. Ek bied aan om die video die volgende dag aan hom te stuur dan kan hy rustig daarna kyk en indien hy weer n heropname wil maak, doen die SAUK so. Hy bedank my vir my sorgsaamheid.

Drie dae later bel hy my. Hy laat my amper voel of ek familie is! “Ek en Mamma het daarna gekyk. Ek sal nie daarop kan verbeter nie. Saai dit maar so uit”. Weer dankie dat ek so opgetree het.

Agt maande later verfoei hy my met sy nou twee befaamde oproepe.

Ses maande hierna en ’n kort sewe weke voor ek die SAUK finaal verlaat, breek die aanbied van die eerste debat tussen politieke teenstanders op TV aan. FW de Klerk, toe leier van die NP in Transvaal en kabinetsminister, en Andries Treurnicht, leier van die Konserwatiewe Party, debatteer in die ateljee die oggend van 29 Februarie 1988. Die opname was bestem om daardie aand uitgesaai te word.

Die vorige dag kry ek ’n oproep van PW vanuit Tuinhuys. Hy draai nie doekies om nie. Hy reken FW is te lig in die broek vir so n debat en gaan nie die mas opkom nie. “Ek wil die opname sien voordat dit uitgesaai word sodat ek kan weet wat ek moet doen om daarna vure dood te slaan”.

Omdat die opname in Johannesburg gemaak is, was daar geen rede om dit per video na Kaapstad te voer nie. Uit die aard van die saak kon ek ook nie opdrag gee om so ’n voer na Kaapstad te doen met net een doel as om ’n opname te maak vir ’n vooraf privaatvertoning vir die President in sy kantoor nie.

Na die opname van die debat versoek ek ’n videoweergawe vir my eie rekord. ’n Personeellid vlieg met ’n koevert en die video daarin na Kaapstad. Kry laat die middag bevestiging dat die President na die video gekyk het. Die debat is die aand uitgesaai. PW het geen woord daaroor gepiep nie. As FW nie vir PW verras het nie sou hy seer sekerlik iets te sê gehad het want hy het hom klaar gemaak dat FW gaan struikel en sou dus gereed wou wees om die NP uit ’n penarie te red.