Die voorwoord van Barnard se “Geheime Revolusie” laat reeds wenkbroue lig. Hermann Gilomee skryf dat dit “NI en Barnard persoonlik” was wat PW Botha aan die einde van die 1980’s tot ander insigte laat kom het en lg “na Barnard begin luister het oor die sleutelbesluite wat hy moes neem”. Voorts vermeld hy: “Die prominentste persoonlikhede word hierin ewewigtiger en skerper belig as in enige ander boek waaraan ek kan dink”.

Dan het ek ’n ander boek as Gilomee gelees. Die enigste persoon wat die boek laat uitstraal, is Barnard self. Daardie “prominentste persoonlikhede” word in die meeste gevalle sydelings vermeld. Van “skerper” beligting is daar weinig sprake.

Dalk is ek nie die beste persoon om oor PW Botha te skryf nie. Maar vir Barnard om die volgende stelling te maak, sal sekerlik menige een wat iets met Botha te doen gehad het – binne en buite sy regeringsinvloedsfeer – in hul ontbytvlokkies laat stik: “Alles in ag genome, sal PW Botha nog eendag sy regmatige en welverdiende plek in die geskiendenis van Suid-Afrika kry”. Wanneer dit sou gebeur, hoop Barnard dat hyself ook so vereer sal word want, so stel Barnard dit self: “Ek glo dat NI daarin geslaag het om Botha opnuut oor sy politieke oordeel te laat dink en sy gewete vir regverdigheid te aktiveer”.

Wanneer Botha hom uiteindelik roskam en PW aan hom sê hy “wantrou” hom, kry Barnard hom “jammer” en sê vir homself: “Vergewe hom, want hy weet nie wat hy doen nie”. So het hy toe eers die totale PW leer ken. Hy reken PW het selde gevloek. Soos in goeie Engels gesê word: “You could have fooled me”.

Ek het selde indien ooit n boek gelees wat so selfgesentreerd is en van selfvoldaanheid spreek as hierdie een. Soms is dit net te dik vir n daalder. Want dit hou net aan en aan!! Sy voortvaarentheid ken duidelik nie perke nie. Maar die aanhoudende egoïstiese trant van die boek staan is skrille kontras met wat Barnard self in die boek verkondig: “Dit is deel van spioenasie-etiek om nie oor jou werk te praat nie”. Praat is seker verkeerd, maar spog en te koop loop, is skynbaar in orde.

Die onderhandlingsproses vir Namibiese onafhanklikheid maak hy af in enkele kort paragrawe; skynbaar omdat hy ”effe teësinnig in opdrag” van Botha by die onderhandelingspan betrek is. Maar die eintlike rede gee hyself: “Soos seuntjies in n sandput wat deur hul ouboete dopgehou word om seker te maak hulle speel volgens die se reëls. Not ’n dêm (sic)!”. Tog het hierdie seuntjies daarin geslaag om in Desember 1988 ‘n internasionale ooreenkoms t.o.v. Namibië se onafhanklikheid te bereik. Hierdie was nie net deurslaggewend vir Namibië se toekoms nie, maar ook SA s’n. SA is as ‘n betroubare gespreksgenoot gesien, beleef, ervaar en erken.

Waaroor Barnard ook al met Mandela in 1989 gesels het, het teen hierdie agtergrond gebeur waar ’n internasionale klemverskuiwing reeds plaasgevind het. Toe die groot toets in Februrie 1990 kom, was die internasionale gemeenskap voorbereid gewees om SA weer eens te vertrou en te aanvaar.

In Barnard se eie woorde is dit “nie altyd die flambojante vleuel of die stormram van die skrum wat die drie druk nie”. Almal weet wat hy daarmee bedoel en wie hy ook wil bykom. Dat hy min – indien enige – ooghare vir Buitelandse Sake gehad het, was alombekend. Vleuels Van Heeden en Evans was nie juis sy gunstelinge nie, nog minder hul minister. Hy was vir Barnard ’n stormram wat in die boek as “uitgeslape” en “opportunisties” afgemaak word. Sy wrewel in Buitelandse Sake kom nie beter navore wanneer hy beskryf hoe Van Heerden (toe Direketeur-generaal van Buitelandse Sake) hom op n keer “onthuts meegdeel het dat hulle moeg is om deur die agterdeur in te gaan [en] die tyd om by die voordeur in te gaan het vir Suid-Afrika aangebreek”. Dis toe dat Barnard sy “stukkie boerewysheid” ophaal: “Die agterdeur nader aan die kombuis en gasvrye gemoedelikheid is, terwyl die voordeur na die sitkamer met sy dikwels opgesmukte maniertjies lei”.

Maar toe het die voorste stormram wat hy ondersteun en afgerig het ook nie die drie gedruk nie. Die telbord wys dat De Klerk met die wat hom aangemoedig en ondersteun het die wêreldbekende drie toe gedruk het. De Klerk, volgens Barnard, “skipper heen en weer” maar Barnard “tree toe tot die debat” en na sy betoog het De Klerk “dit gelukkig ingesien”.

So het baie inisiatiewe geslaag. Nie a.g.v. Barnard en NI se betrokkenheid nie, maar in weerwil daarvan. Hy sê nie wie o.a. die inisatief aangevuur het wat die ontmoeting met n vorige Pous moontlik gemaak het nie en waarby hy toe ingesluit was en sodoende n foto gekry het vir sy boek. Seker maar deur een van die seuntjies in die sandput! Pik Botha het maande geswoeg om Europese leiers en die Vatikaan te oortuig om vir PW te ontvang. Toe was die sitkamer met sy opgesmukte maniertjies heel gepas en aanvaarbaar vir Barnard om nader te staan vir n foto!

Niks vergestalt sy eie verwaandheid soos vervat in hierdie aanhaling nie: “Selfs die formidable dr. Gerrit Viljoen het hom destyds in sy tyd as administrateur-generaal van Suidwes-Afrika teen n jong maar uitstekende navorser vasgeloop wie se strategiese ontleding van Swapo nie met sy siening geklop het nie. Die navorser het egter vreesloos by sy feite en sy interpretasie gehou”. Het hy ook hierdie stategiese ontleding met Botha gedeel? Hoogs twyfelagtig want Botha se standpunt oor Swapo was aansienlik meer verdoemend as wat Viljoen s’n ooit kon wees. In die tien jaar na Viljoen het Barnard nie een ontvanklike in SA vir daardie strategiese ontleding gekry nie. Harde onderhandeling in die sandput het die deurslag gegee waarvoor die seuntjies die eer moet kry.

Dat hy nie ooghare vir sekere van die seuntjies gehad het nie spreek duidelik uit wat hy Rusty Evans van Buitelandse Sake toegesnou het en wat hy woordeliks herhaal: “Luister, Rusty, jy en jou minister kan albei in julle moer vlieg”.

En so kan aangegaan word – maak die Rubicon fiasco in n sin af; n “Staatsveiligheidsraad-Boendoehof” sou hom verhoor; sy besluit om ‘n opnameband te “verbrand”; Winnie Mandela is n “maaifoedie”; danksy NI se “uitmuntende inligting” oor die bevrydingsbewegings; teen 1988-89 het die “aktiewe ondersteuning” van die ANC se “tereuraanvalle teen Suid-Afrika redelik afgeneem”.

Dis egter die eie lof toeswaaiery wat reeds vroeg in die boek die oorhand begin kry. “My kennis van die staatkunde. … Ek het ‘n natuurlike aanleg om n organisssie te bestuur en leiding te neem. Al moet ek dit self se: Ek is n bleddie (sic) goeie voorsitter. Ek neem besluite, tydige besluite, sorg dat dit uitgevoer word, en ek funksioneer goed onder druk. … het ek ‘n groot dosis deursettingsvermoë”.

Dit is wat enige leser dan laat wonder of hierdie nie maar net ‘n heldeverhaal is wat die held graag self wil vertel nie. Aan die einde weet die gefrustreerde leser dat dit inderdaad die geval is want dit word tot vervelens toe herhaal.