Die afsterwe van Colin Eglin het by my ‘n baie besondere terugblik gelaat. Ek het hom nooit persoonlik geken nie. Tog speel ek op n eienaardige wyse n rol wat later die weg gebaan het vir Van Zyl Slabbert om in 1979 as leier van die Progressiewe Federale Party in die plek van Colin Eglin verkies en sodoende ook leier van die Amptelike Opposisie te word.
SA aanvaar die vyf westerse lede van die Veiligheidsraad se skikplan vir SWA se onafhanklikheid op 25 April 1978. Op sy beurt aanvaar die Veiligheidsraad hierdie plan as resolusie 431 op 27 Julie 1978. Ingevolge daarvan stel Waldheim, toe Sekretaris-generaal, vir Martti Ahtisaari aan as sy Spesiale Verteenwoordiger om hierdie plan te implementer. Nou begin Ahtisaari sy span saamstel sodat hulle reg kan wees wanneer die Veiligheidsraad die implementering van die plan en die daarstelling van UNTAG magtig. Dit gedoen, tref die span reëlings vir hul besoek aan SWA om ter plaatse gesprekke te voer, die Gebied te deurreis en hulle van ‘n horde aspekte te vergewis. Vanaf 6 Augustus 1978 is hulle in SWA vir byna drie weke. ‘n Omvattende verslag word vir Waldheim voorberei.
Vier persone vorm saam met Ahtisaari die kern van die groep: Hisam Omayad van Somalië, ‘n politieke deskundige in die VN. Teen daardie tyd het hy al naam gemaak met al die Afrika-vraagstukke wat die Organisasie toe reeds in die dekolonisering van so baie Afrika-lande hanteer het. Bernard Muganda wat ‘n politieke adviseur van president Julius Nyrere van Tanzanië is en met wie Ahtisaari hoogsbevriend raak gedurende sy eie verblyf in Dar-es-Salaam. Generaal-majoor Hannes Philipp van Oostenryk is die militêre bevelvoerder van die toekomstige UNTAG. Cedric Thornberry is ‘n astrante Ier wat Ahtisaari se persoonlike assistent word. Met die vier verkeer ek, soos met Ahtisaari, op goeie voet.
Don McHenry is die VSA se Ambassadeur by die VN. Hy tree op as die onverkose leier van die westerse groep van Vyf. Met die ander vier ambassadeurs hou ek ook goeie kontak, maar met McHenry kom ek die beste klaar. Ons ontmoet weekliks vir middagete. Dan gesels ons baie openlik en reguit. En daar is baie onderwerpe. Hy is uiters goed ingelig oor die VN. Hy verstaan die werkverrigtinge in beide die Staatsdepartement onder Cyrus Vance en Carter se Withuis. Hy is meer as ambisieus. Wil so graag SWA onafhankilk sien in daardie presidensiële era. Watter veer sou dit nie ook in sy hoed wees nie! Enigiets wat die proses durf vertraag of in gevaar stel, spreek hy heftig en drifting aan. Gooi sy volle gewig in om alles op die spoor te hou. Nie juis n maklike taak nie!
Op grond van Ahtisaari se verslag lig Waldheim die Veiligheidsraad in. Op 29 September 1978 aanvaar die Veiligheidsraad die nou alombekende resolusie 435. Dit skep UNTAG om onder die gesag van die Veiligheidsraad verantwoordelik vir die implementeringsproses te wees. Dieselfde dag word PW Botha Eerste Minister. Die volgende drie maande spandeer Ahtisaari en sy span om hulleself slaggereed te kry vir hul opvolgbesoek. Vroeg in Januarie 1979 skryf Waldheim aan Pik Botha, Minister van Buitelandse Sake:
“I wish to acknowledge receipt of your letter of 22 December 1978, in which you conveyed your Government’s acceptance of Security Council resolution 435 by communicating South Africa’s decision to co-operate in the expeditious implementation of this resolution”.
Daardie besoek volg later daardie maand. Hierdie keer vergesel ek die groep. Gesprekke in Kaapstad met o.a. die Eerste Minister vind ook plaas. Februarie en Maart bestee hulle om al hul verslae en logistieke vereistes op te stel. Tussendeur hou ek my gewone kontak met die span en McHenry.
En toe gebeur wat ek in my wildste drome nie kon voorsien nie. Vroeg in April 1979 loop ek generaal Philipp een Vrydagoggend in die VN-gebou raak. Ons wissel die gewone algemeenhede. Ek wou nooit eintlik met hom ‘n diepgaande gesprek voer nie omdat ek myself nie bekwaam geag het om oor militêre aangeleenthede opinies uit te spreek of vrae daaroor te beantwoord nie. Op my vraag wat hy die naweek doen, vertel hy waarheen hy reis. Op sy teenvraag noem ek dat ek in die stad gaan bly om n bietjie te ontspan. “Goed” sê hy: “Kom haal vroeg more-oggend ‘n koevert by die ontvangstoonbank van my hotel”. Ek vra hom nie verder uit nie. Hy sê ook niks verder nie. Sy enigste versoek is dat ek die koevert Maandagoggend voor ontbyt by dieselfde ontvangstoonbank vir hom moet laat. Afgespreek en ek wonder waaroor dit alles gaan.
Oor baie aspekte van die onafhanklikheidsplan het SA en die VN vasgesit. Meestal het dit met die militêre gedeelte van die skikplan te doen gehad. Een van die knellendste geskilpunte het oor die toepassing van die vereiste gegaan wat SA en SWAPO se gewapende magte tot hul basisse sou beperk en daar deur UNTAG gemonitor sou word. SA se standpunt is onverbiddelik: SWAPO het geen basisse in die Gebied nie; hul basisse is in Angola en Zambië. Daarenteen is SWAPO se gedetermineerde standpunt: hulle het wel ook basisse is die noorde van die Gebied. Angola en Zambië weier dat UNTAG hul onderskeie soewereine grondgebiede betree. Die noodwendige implikasie van hierdie situasie: SWAPO word nie tot hul basisse in Angola en Zambië beperk nie. Wie kan hul basisbeperking dan daar monitor? Hoe kan daardie kardinale punt in die plan dan toegepas word? Word SWAPO gelyk gegee, kry hulle basisse by implikasie in SWA. Hoe meer SA daarop aandring dat SWAPO en die VN daardie sogenaamde basisse in SWA moet uitwys hoe minder word met die onderwerp vordering gemaak.
So sleep hierdie geskilpunt voort. SA kry geen ondersteuning vir sy standpunt nie – nie by die Vyf nie en nog minder by Waldheim. En die frontlinie state steun Angola, Zambië en SWAPO die heel pad.
Met die oopmaak van die koevert sien ek die pak dokumente is almal geheim gemerk. Verslae van Philipp aan Waldheim en Ahtisaari oor die twee waarnemingsbesoeke aan SWA. Twee van sy hoofgevolgtrekkings: SWAPO het geen basisse in SWA nie; wel basisse in die twee buurlande wat UNTAG daar sal moet monitor.
Wat maak ek met die inligting? Sekerlik het Philipp my dit nie laat toekom net om die verslae te lees en dan daarvan te vergeet nie. Hy moes weet – en verwag – dat ek daaroor aan die regering verslag sou doen. My rustige naweek is daarmee heen. Lees die stukke oor en oor. Maak sorgvuldige aantekeninge. Maar maak geen afskrifte nie. Stuur Sondagmiddag ‘n uiters geheime telegram aan Pik Botha. In ses bladsye sit ek Philipp se standpunte uiteen en dra sy hoofgevolgtrekkings woordeliks oor. Lewer die koevert ongeskonde die volgende oggend af. Ek sien Philipp nie weer nie en maak ook nie enige kontak verder met hom nie.
Pik deel die inligting met die Eerste Minister. Hulle besluit dat Pik hierdie inligting met sy verreikende gevolge aan die leiers van die drie opposisie partye in die Volksraad (Colin Eglin – PFP en leier van die amptelike opposisie – en Vause Raw – Nuwe Republikeinse Party – en John Wiley – die Suid-Afrikaanse Party) verduidelik moet word. Eglin word deur Japie Basson en Raw deur Brian Page na die inligtingsessie vergesel – die twee partye se segsmanne oor buitelandse sake. Wiley is op sy eie. Pik deel met hulle hierdie sensitiewe inligting sonder om my bron bekend te maak. Ek is onbewus van die ontmoeting in Kaapstad.
Woensdag besoek ek McHenry in sy kantoor. Ons handel af wat ons wou bespreek. Aan die einde kom sy terloopse opmerking-vraag: “Colin Eglin called me earlier today. He asked what it was all about Pik telling him. I could not help him. Do you know what Pik is up to?” Ek verseker McHenry dat ek nie ingelig is oor so n gesprek tussen hierdie twee nie.
Terug op kantoor doen ek per telegram verslag oor wat met McHenry bespreek is. As laaste paragraaf – en byna as ‘n laatgedagte – voeg ek by dat Eglin vir McHenry gebel het om hom oor Pik se mededelings uit te vra. Hierdie telegram word die spreekwoordelike kat in die duiwehok. Die Eerste Minister en Pik is hoogs die hoenders in. Hulle beskou dit as ‘n geval van growwe onverantwoordelikhied. Eglin kan nie met sensitiewe inligting vertrou word nie – ook nie in die toekoms nie. ‘n Vertrouensbreuk ontstaan. Harde woorde begin te val. Nou is daar net een uitweg. Die Volksraad en die publiek moet weet wat Eglin agter Pik se rug gedoen het.
In die Volksraad is Pik op sy stukke, soos verwag kon word! Hy konfronteer Eglin oor die oproep. Hy daag Eglin uit om te verduidelik wat hy met McHenry bespreek en aan hom oorgedra het. Waarom maak hy na die ontvangs van sulke sensitiewe inligting nogtans so ‘n oproep. Eers ontken Eglin dat dat hy McHenry gebel het. Pik beskuldig hom dat hy die Volksraad mislei. Pik nie links nie en lees die laaste paragraaf van my telegram voor. Eglin erken hierna dat hy wel die oproep gemaak het. Nie om sensitiewe inligting oor te dra nie maar om by McHenry duidelikheid oor sekere van Waldheim se voorstelle te kry. Behalwe vir die PFP-lede glo weinig ander volksraadslede hom.
Nou word die spot met die leier van die amptelike opposisie gedryf. Gebare van n telefoon teen die oor; uitroepe van “trieng, trieng” en tussenwerpsels van “Al vir McHenry vandag gebel?” kom tydens sy toesprake voor. Hoe houdbaar is sy posisie?
Paasnaweek kom nader. Voor die naweek kry ek ‘n opdrag. Pik wil my die volgende Woensdag in Kaapstad spreek. Die vlug is ‘n bekommerniswekkende ondervinding. Ek kan tog nie meer besonderhede gee as wat die twee telegramme reeds bevat nie. Pik verduidelik tydens die ontmoeting: “Ek het gereël dat jy die vier politieke partye se onderskeie studiegroepe oor buitelandse sake ontmoet en hulle vrae beantwoord”. Ek is nie juis te gelukkig oor die moontlikheid dat ek nou in ‘n politieke spervuur kan beland nie – veral met die slegte gevoel wat toe reeds tussen die regering en die PFP en veral hul leier en die leier van die amptelike opposisie bestaan. ‘n Verkeerde woord kan my sink. Dit kan onmeetbare skade aan SA se verhouding met Waldheim en die VN meebring, hoe troebel dit toe dan nou ook al reeds was.
Eerste aan die beurt is die Nasionale Party. Binne ‘n uur is alles afgehandel. Die lede wat opgedaag het, is tevrede. Toe die NRP. Raw en Page het nie veel vrae nie. Nog ‘n maklike sessie is verby. Die ontmoeting met Wiley is eintlik net om koffie te drink. Toe lê hef aan voor. Vyf senior lede van die PFP is teenwoordig, insluitend Japie Basson, Harry Schwartz en Van Zyl Slabbert. Eglin is nie teenwoordig nie. Meer as twee ure staan ek bont. Vrae kom en verduidelikings word gesoek. Schwartz is oudergewoonte en getrou aan sy reputasie skerp, aggressief en deurdrigend. Hy, meer as Basson, lei die verrigtinge. Slabbert is stil en vra hoflike vrae. Niemand vra my uit oor wie my bron is nie! Ek gee ook geen aanduiding nie. Of hulle tevrede is, weet ek nie. Niemand gee ‘n aanduiding nie – dankie en totsiens. Op 1 Mei – byna tien dae daarna – skryf Basson ‘n brief aan Pik. ‘n Afskrif word aan my gestuur:
“Mnr. Eksteen se ontmoeting met ons Buitelandse Sakegroep was vir al die lede wat teenwoordig was van besondere waarde. Hy het perspektief aan verskeie belangrike vraagstukke gegee, en ek sal bly wees as dit aan hom oorgedra kan word dat die lede beïndruk was deur sy begrip van sake en die uiters bekwame manier waarop hy op hul vrae geantwoord en hulle ingelig het”.
Wat later in die geledere van die PFP gebeur het, is ou nuus. Slabbert word die nuwe leier van die amptelike opposisie. By sy aftrede het Eglin die opmerking gemaak: “Ek sal vir geen oomblik ontken dat my hantering van die McHenry-sage baie lomp was nie”. (Beeld, 23 Okt. 2003)
Intussen begin allerlei gerugte in New York die rondte doen dat Philipp op pad uit is. Hy bots te veel met Ahtisaari en sy landgenoot, Waldheim. ‘n Verslag van hom word as moontlike rede genoem. Teen die einde 1979 is Philipp ook uit sy pos. Waldheim vervang hom met lt.-genl. Prem Chand van Indië. Elf jaar later word resolusie 435 uiteindelik geïmplementeer.
Nooit weer vir Philipp of Eglin gesien of van hulle gehoor nie. Tydens my dienstermyn in Geneve geniet ek en Slabbert middagete in 1993. Ek roer die oproep van Eglin aan en vra: wat dink hy sou gebeur het as ek nie daardie een sin oor die oproep in my telegram ingesluit het nie. Sy beskeie maar veelseggende antwoord: “Wie kan sê?”
Recent Comments